'n Unieke geleentheid bestaan om u eie wingerdlandgoed te besit en 'n besondere lewenstyl te geniet in die wynland van die Boland, sonder die risiko en sorge van wingerdboerdery. Leeuwentuin Landgoed bied hierdie geleentheid om 'n 5 hektaar of 10 hektaar Wingerdlandgoed te bekom. Leeuwentuin Landgoed is geleë in die skilderagtige Bovlei-Vallei, ook bekend as die Wamakersvallei, oos van Wellington. Dit lê aan die voet van die historiese Bainskloofpas, omring deur boetiek wynkelders en met asemrowende uitsig oor die berge en pieke wat die vallei omvou. Die ses gedeeltes waaruit die bekende wingerdplaas bestaan, is onlangs herrangskik in drie dele van 5 hektaar en drie dele van 10 hektaar elk in 'n unieke opset waar die wingerde as 'n eenheid geboer word. Elke 5 hektaar eenheid het 'n plaaswerf en die 10 hektaar eenhede het 2 elk, almal met die grootte van 3000m², 'n totaal van nege wonings versprei oor die 53 hektaar van die Landgoed. 'n Koper verkry volle titel van sy gedeelte met die reg om 'n woning met buitegeboue op sy werf te bou binne argiteksriglyne om 'n sekere standaard en homogene omgewing te verseker. Hierbenewens kry 'n koper 10% aandeel in die Boerderymaatskappy wat al die wingerd op die plaas bewerk en boer om te verseker dat die boerdery as 'n lewensvatbare eenheid bedryf word en 'n aanvaarbare standaard gehandhaaf word. Al die eienaars kry sodanig inspraak in die boerderymaatskappy. Inwoners het toegang tot die geheel van die Landgoed en gemeenskaplike fasiliteite, wat georden word deur 'n Huiseienaarsvereniging waaraan alle eienaars behoort. Oordrag van die gedeeltes sal vanaf Maart 2009 geneem kan word.